Die gesondheidskrisis in die Noord-Kaap verdiep
Die regering se verwaarlosing van gesondheidspersoneel, ‘n onvoldoende begroting en die wêreldwye tekort aan verpleegsters maak die situasie vir werkers en pasiënte onhoudbaar.
Author:
25 May 2022
Verpleegpersoneel in die Noord-Kaap moet die bomenslike vermag deur na soveel as 40 pasiënte op ‘n slag om te sien en dan na-ure die vloere en toilette skoon te maak omdat die gesondheidsdepartement geen nuwe skoonmakers die agelope 10 jaar aangestel het nie.
Volgens Anthony Vassen, provinsiale sekretaris van die verpleegstervakbond Denosa, staar verpleegsters in die openbare sektor in die Noord-Kaap min of meer elke moontlike probleem in die gesig.
In dele van die wêreld waar verpligte verpleegster-tot-pasiënt-verhoudings toegepas word, soos in die deelstaat Kalifornie in Amerika en Victoria in Australië, is die hoogste getal pasiënte wat deur ‘n verpleegster versorg sal word tussen vyf en agt in ‘n algemene saal. In ongevalle, intensiewe sorg en die kraamafdeling is daar een verpleegster vir elke een tot twee pasiënte. In staatshospitale in die Noord-Kaap is daar egter so min verpleegsters oor dat elkeen tussen 30 en 40 pasiënte op ‘n slag moet versorg.
As gevolg van hierdie erge tekort, sê Vassen, word verpleegsters gereeld versoek om ekstra ure te werk nadat hulle 12 uur lange skofte verby is. Hulle doen dit om te verseker dat die pasiënte ‘n mate van sorg kry, maar word amper nooit daarvoor vergoed nie, al is ‘n sekere aantal ure volgens kontrak aan die einde van die maand betaalbaar.
“Daar is gesondheidsfasiliteite wat oortyd eers ses maande later betaal. Ander verpleegsters moet tot ‘n jaar lank wag. Dan stapel die oortyd op en word dit nooit ten volle betaal nie,” sê Vassen.
Hy sê die departement het in 10 jaar nog nie enige nuwe skoonmakers aangestel nie en gebruik werkers van die uitgebreide openbarewerkeprogram om te kom skoonmaak, maar slegs tot 4nm op weeksdae. Saans, oor naweke en op openbare vakansiedae moet die verpleegsters die self skoonmaakwerk doen.
Massiewe tekort
Die vakbond het op 12 Mei na die kantoor van premier Zamani Saul opgemars en hom tot 19 Mei gegee om skriftelik te onderneem om hulle griewe op te los. Volgens hulle is die provinsie se gesondheidsfasiliteite ‘n gevaarlike omgewing vir beide pasiënte en verpleegpersoneel.
Denosa sê die Noord-Kaapse regering is hopeloos wat beplanning aanbetref. Volgens die vakbond se databasis vir die provinsie het 158 verpleegsters in 2019 gesterf, afgetree of die openbare gesondheidsektor verlaat. In 2020 was die getal 107 en verlede jaar was dit 193. Hierdie statistieke sluit die getal verpleegsters uit wat die beroep verlaat het of aan ander vakbonde behoort.
Selfs al word hulle elke jaar deur dieselfde getal nuut gegradueerde verpleegsters vervang, sal daar steeds ‘n reusegaping in ondervinding en vaardighede wees. Maar die enigste verpleegopleidingskollege in die Noord-Kaap, die Henrietta Stockdale-verpleegkollege in Kimberley, het die afgelope drie jaar geen nuwe studente ingeneem nie.
“Selfs wanneer die kollege weer geakkrediteer is, sal dit slegs 30 verpleegstudente per jaar inneem en nie die 60 van vorige jare nie. Ons sal op geen punt daarop kan staatmaak om genoeg verpleegsters in Kimberley te laat gradueer om in ons provinsie se behoeftes te voldoen nie,” sê Vassen.
Henrietta Stockdale is die oudste verpleegkollege in die land, maar kon weens vertragings met akkreditasie vir die nuwe nasionale verpleegkwalifikasies sedert 2019 nie nuwe studente inneem nie. Vassen blameer die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) en die Raad op Hoër Onderwys vir die vertragings, maar beide rade blameer die kollege.
Sizo Mchunu, die SARV se uitvoerende hoof, sê die kollege het sy programme laat voorgelê en moes daarna eers sekere probleme aanspreek wat die SARV daarmee gehad het. Die SARV kon die programme dus eers in Oktober 2020 en Maart 2021 akkrediteer. Ntokozo Bhengu, die woordvoerder van die Raad op Hoër Onderwys, sê die raad kon nie die kollege se diploma in verpleegkunde akkrediteer nie en het pas eers sy terugvoering ontvang en sal dit nou verwerk.
Hierdie vertragings het die openbare gesondheidsektor in die Noord-Kaap met ‘n “massiewe tekort” gelaat. “Hierdie is ‘n landelike provinsie. As verpleegsters hiernatoe kom, verkies hulle om in Kimberley, Upington of die nabye dorpe te werk. As jy eers diep in die platteland gaan, is dit meestal net verpleegsters wat daar gebore en getoë is wat sal terugkom en kom help. Verpleegsters van elders af wil nie eers vir ‘n jaar bly nie want hierdie gebiede is van die gemeenskap afgesonder,” sê Vassen.
Op die randjie van ineenstorting
Denosa sê hy het nog talle ernstiger probleme die afgelope jare onder die regering se aandag gebring. Verpleegsters kan nie tyd afkry vir nagraadse studie in spesialisareas soos intensiewe sorg, kraamsorg, pediatrie, primêre gesondheidsorg en ongevallesorg nie. En tog kan hospitale nie sonder spesialisverpleegsters nie. In baie lande word van verpleegsters verwag om hulle nagraadse opleiding te begin doen sodra hulle begin werk.
“Meeste van die begroting vir vaardigheidsontwikkeling word nie spandeer nie, wat vir jou wys daar’s geld maar net geen beplanning nie. Nege uit 10 verpleegsters in die Noord-Kaap is nie opgelei in ‘n spesialisrigting nie,” sê Vassen. Verarmde gemeenskappe wat op primêre gesondheidsorg van ‘n hoë gehalte staatmaak, word benadeel omdat die werk van verpleegsters sonder nagraadse opleiding ‘n beperkte omvang het, voeg hy by.
Met ‘n totale ineenstorting wat dreig, het sekere gemeenskapsgesondheidsentrums snags en oor naweke gesluit omdat daar geen verpleegsters is om daardie skofte te werk nie. Die sentrums in Pampierstad en Warrenton is nou slegs vir agt tot 12 ure oop, sê Vassen. Snags moet siek pasiënte in hierdie gemeenskappe hulle eie pad vind na hospitale so ver as 200km weg.
“Daar’s ‘n massiewe toestroming van pasiënte uit die landelike gebiede na ons hospitale wat 24 uur oop is en reeds te min personeel het, en dis ‘n gevaar vir beide die verpleegsters en pasiënte. Die bestuur gooi die verpleegsters onder die bus as hulle foute maak, maar die rede is ooglopend. Jy kan nie van een verpleegster verwag om 40 pasiënte te versorg en nie ‘n fout te begaan nie,” sê Vassen.
Die omvang van die probleem is reusagtig. Vassen sê in kleiner hospitale hardloop verpleegsters in ‘n enkele skof van 12 uur tussen die kraamsaal, ongevalle, pediatrie en algemene sale rond. Die normale praktyk is vir ‘n verpleegster om in een afdeling te bly en ervaring op te doen sodat hulle beter sorg kan bied.
Talle gesondheidsfasiliteite buite Kimberley en Upington het nie kragopwekkers nie en die wat dit wel het, het nie geld vir diesel nie. “Maar hulle maak nie toe tydens beurtkrag nie. Die verpleegster moet steeds na die pasiënt omsien sonder enige toerusting wat elektrisiteit gebruik. Die verpleegsters moet dan die spit afbyt en beledigings van gemeenskapslede verduur,” sê Vassen.
Denosa wil ook hê dat alle veiligheidswagte ingekontrakteer moet word want gesondheidsfasiliteite wat van privaatmaatskappye gebruik maak, kan hulle nie oplei om psigiatriese pasiënte of ontstelde familielede korrek te hanteer nie.
“Kan jy verstaan hoekom, so baie kere, die verpleegster getraumatiseerd is?” vra Vassen.
‘n Wêreldwye krisis
Hierdie kwessies is al telkemale onder die regering se aandag gebring, maar hulle word geignoreer. Derhalwe kry verpleegsters die indruk dat hulle en hulle pasiënte gedwing word om gewoond te raak aan ‘n gesondheidstelsel wat agteruitgaan en toenemend tot op die been gekloof sal word.
Saul se woordvoerder, Bronwyn Thomas-Abrahams, het belowe om New Frame se vrae te beantwoord, maar het dit nooit gedoen nie. Die provinsiale gesondheidswoordvoerder, Lebogang Majaha, het gesê hy sal behoorlik reageer “kort nadat interne konsultasies afgehandel is”.
Zwelinzima Vavi, hoofsekretaris van die vakverbond Saftu, sê die beleid van ekonomiese soberheid het reg oor Suid-Afrika heen die “kop van die openbare gesondheidstelsel afgekap” deur middel van begrotingsbesnoeiings en geld wat weggeneem is. Die gesondheidsbegroting se jongste verhoging van 0.2% is so ver onder inflasie dat dit in werklikheid ‘n besnoeiing is, sê Vavi.
Hierdie onderbefondsing, personeeltekort en gebrek aan toerusting en medisyne maak die “verpleegberoep ondraaglik en nogal ontstellend vir verpleegsters”, voeg hy by.
Navorsing van die Internasionale Sentrum vir Verpleegstermigrasie wat vanjaar vrygestel is, het bevind dat die tekort aan verpleegpersoneel ‘n “krisis en ‘n vermybare gesondheidsramp” is. Met die aanvang van die Covid-19-pandemie was daar wêreldwyd ‘n tekort van ses miljoen verpleegsters, maar dit het vererger omdat ‘n hele aantal verpleegsters aan die virus dood is.
Die wêreld sal in die volgende dekade 13 miljoen verpleegsters moet werf en behou, aldus die sentrum se uitvoerende hoof, Howard Catton.