About Features News Sport Analysis Editorial Culture Podcasts

Kaapstad-metro se optrede laat haweloses sonder hoop

Die toekoms is onseker vir tentbewoners naby die kasteel nadat die metro hulle skuilings, klere, medikasie en ander besittings tydens ‘n sogenaamde skoonmaakoperasie gekonfiskeer het.

Author: loading...

13 June 2022

Read the original article in English.

Wetstoepassers in Kaapstad het op 25 Mei beslag gelê op tente en ander materiaal waarmee skuilings gebou is buite die baken van kolonialisme, die Kasteel De Goede Hoop. Joslyn Thomas, 33, wat al sowat ses maande buite die kasteel woon, sê tentbewoners se dokumente en persoonlike items is ook weggeneem.  

Die kasteel is een van die oudste geboue in Kaapstad en een van die eerste wat sigbaar is wanneer ‘n mens die stad met die snelweg binnekom. Daar is ‘n grag rondom en omtrent 20 skuilings is buite die gronde opgerig. Thomas was in die Foreshore-distrik in die middestad toe beamptes die klopjag op die tentdorp uitgevoer het.      

Sy is deur ‘n enkelma grootgemaak in Bishop Lavis, ‘n woonbuurt omtrent 19km van die middestad, en sê dinge was nie maklik vir hulle gesin nie. “Ek kan vir jou sê ek kom van ‘n ma wat vier dogters op haar eie grootgemaak het,” sê Thomas.    

“Dit was swaar vir haar. Dis moeilik om te sien want sy kry swaar. Baie van hierdie mense wat buite woon se ouers of families het nie juis geld nie. Maar omdat hulle [die metro- en polisielede] alles het, dink hulle dis beter om op ons neer te sien as om te help. Sommige van ons werk vir wat ons ook al het. Mense was taxi’s en karre vir geld. Party mense krap in asblikke deur die dag vir iets om te eet. Dis ‘n rowwe bestaan.” 

Die wetstoepassers het in vier voertuie gearriveer en begin om beslag te lê op tente, klere en komberse. Onder die items was identiteitsdokumente, asielsoekerpermitte, mattrasse, medikasie vir MIV en tuberkulose, kliniekkaarte en ander persoonlike dokumente. Die beamptes het nie ‘n hofbevel getoon om hul optrede te steun nie.

25 Mei 2022: Gekonfiskeerde items van haweloses word buite die afhaalpunt op ‘n voertuig van die Kaapstad-metro gelaai.

Thomas het haar gewend na die regsentrum van die aktiviste-organisasie Ndifuna Ukwazi, wat die Stad Kaapstad hof toe gevat het. Sy was die hoofaansoeker om ‘n interdik teen die metro te bekom. Dit is op 1 Junie toegestaan en die metro en Ndifuna Ukwazi het ooreengekom dat al die besittings wat verwyder is weer terugbesorg sal word.  

Maar toe die meer as 10 mense wat naby die kasteel woon by die afhaalpunt aankom, het ‘n groot teleurstelling op hulle gewag. Nie al die gekonfiskeerde items is terugbesorg nie en slegs een vrou kon haar tent identifiseer.

Thomas sê sy is teleurgesteld in die manier waarop die metro-amptenare die gemeenskap behandel het toe hulle hulle besittings wou afhaal. “Wat gebeur het, het gebeur en nou is die hofaansoek afgehandel en ek wil sien wat nou gaan gebeur. Ek het gesien die strukture het op die sypaadjie gelê. Ek het geen idee hoekom hulle ons goed op die sypaadjie gesit het nie. Ons is aangesê om buite te staan en vir die goed te wag. As ons almal geweet het ons sou so buite staan en wag sou niemand van ons eers gegaan het nie.” 

Om als te verloor

Volgens die hofbevel is die metro verbied om die tente of ander bewoonbare strukture of boumateriale af te breek, te verwyder, daarop beslag te lê, dit te konfiskeer of andersins daarvan ontslae te raak hangende die uitslag van ‘n ander hofsaak, Gelderbloem en 10 Ander v die Stad Kaapstad. Hierdie saak sal in die gelykheidshof aangehoor word en staan die nuwe munisipale verordeninge teen wat verlede jaar deur die stadsraad goedgekeur is. Die interdik sal van krag wees totdat die Gelderbloem-saak afgehandel is.

Thomas sê die publiek moet meer empatie betoon teenoor diegene wat haweloos is en buite moet slaap. “Jy is nooit te groot of te klein om te val nie. Jy is nooit verhewe bo alles verloor nie. Niemand van hulle [die wetstoepassers] sal die leefstyl kan hanteer wat mense hier moet trotseer nie. Jy moet baie sterk wees en baie dinge kan hanteer. Dis baie erger hier buite as wat hulle dink. As jy alles het, is dit maklik om op ander neer te kyk. Maar as jy niks het nie, sal jy verstaan waarvan die persoon praat.”  

25 Mei 2022: Jonty Cogger en Joslyn Thomas, die hoofaansoeker in die saak teen die Kaapstad-metro.

Toe sy strate toe is, het Thomas ander haweloses dopgehou ten einde te leer om te oorleef. Sy het vir omtrent sewe jaar in die strate van Parow, ‘n woonbuurt in die noorde van Kaapstad, gewoon. Daarna is sy Goodwood en Elsiesrivier toe vir omtrent twee jaar voordat sy in die middestad beland het. 

Sy het hierheen getrek om van bende-aktiwiteite weg te kom en omdat daar moontlik meer werksgeleenthede sou wees. “Dit was moeilik waar ek was omdat my seun my kom besoek het en ek wou nie hê hy moes aan bendes blootgestel of daarby betrek word nie,” sê Thomas.  

Om in die winter op straat wees, is ‘n bron van groot kommer. “Party van die mense het niks om onder te slaap nie. Dit raak baie nat. Selfs nou wanneer dit in die dag nog warm is, sal jy snags bibber. Soms is dit nat en jy’t nêrens om droog te word nie. Jy mag nie vure maak om jouself droog te kry nie. Dit gaan rof wees vanjaar want mense sê dit gaan ‘n koue winter wees.”

Vasgevang sonder uitkoms

Jonty Cogger, ‘n prokureur by Ndifuna Ukwazi, se die organisasie se regsentrum is besig om alle wetlike opsies te oorweeg. Hy glo ‘n meer holistiese benadering is nodig om die probleem van haweloosheid op te los. 

“Om mense te polisiëer om na skuilings te gaan is fundamenteel verkeerd want dit dien net om ‘n persoon se armoede te verskans,” sê Cogger. “Daar is meer menslike en waardige oplossings vir haweloosheid wat nie behels om mense en hulle besittings met minagting te hanteer nie. Mense sonder behuising het sorg en deernis nodig om hulle uit hulle haweloosheid te kry, nie mishandeling en vervreemding nie.”

Hy sê ook die metro het nie sy eie prosedures by die afhaalpunt gevolg nie. “Die hele stelsel is gebroke. Staatsbehuising op die periferie verskans net mense se armoede. Haweloosheid en die verskaffing van behuising is gekompliseerd. Jy kan nie iemand se posisie kriminaliseer nie. Daar moet veelvuldige ingrypings wees om die probleem te takel. Jy moet elke liewe beskikbare opsie oorweeg en doen wat die beste oplossings in die lang termyn bied. Veelvuldige administrasies is besig om te faal in hulle plig om die gebruik van grond te reguleer.  

“Ons is in hierdie boosaardige sirkel vasgevang. Die status quo word gehandhaaf en so gaan jy iemand se lewe misrabel maak. Dan gaan hulle jou wantrou en jou verafsku.”  

25 Mei 2022: ‘n Teleurgestelde Joslyn Thomas nadat sy en medebewoners van die hawelose gemeenskap nie hulle gekonfiskeerde items kon identifiseer nie.

Die Kaapstad-metro het gesê die optrede by die kasteel was ‘n skoonmaakoperasie wat uitgevoer is weens onhigiëniese toestande, insluitende menslike afval. “Hierdie skoonmaakoperasies geskied gereeld met die wete en toestemming van die onwettige besetters.”

In ‘n mediaverklaring wat op 1 Junie uitgereik is, het die metro geskryf: ”Geen skuilings wat beset is, is doelbewus verwyder nie, en die enigste skuilingsmateriaal wat op 25 Mei verwyder is, was vier onbewoonde, leë tente sowel as materiaal wat rondgelê het, insluitende plastiek en bakstene.” In die verklaring is ook ontken dat besittings soos medikasie en identiteitsdokumente gekonfiskeer is.     

Die metro het nie spesfieke vrae oor die voorval by die afhaalpunt beantwoord nie, en geen besonderhede is verskaf oor sy beleid ten opsigte van die konfiskering van materiale en of dit gevolg is nie.

If you want to republish this article please read our guidelines.
+ posts